Artikel deur Prokureur: Nanika Prinsloo
Wanneer ‘n persoon sterf, moet die waarde van sy boedel vir boedelbelastingdoeleindes bepaal word. Dit word gedoen deur al die eiendom en geagte eiendom wat die persoon besit het bymekaar te tel, sekere items af te trek en die balans wat oorbly is die bedrag waarop die persoon boedelbelasting gaan betaal.
Eiendom is daardie fisiese eiendom wat ‘n persoon besit het ten tyde van sy dood: soos ‘n huis, kar, meubels, beleggings, geld en dies meer. Eiendom wat geag word eiendom te wees van die oorledene, is eiendom wat hy nie noodwendig werklik besit het nie, maar wat geag word sy eiendom te wees. Onder andere is alle lewenspolisse op die lewe van ‘n persoon geagte eiendom van die oorledene, maar daar is drie polisse wat nie geag word as geagte eiendom nie.
Wanneer die waarde van die persoon se boedel bereken is deur eiendom en geagte eiendom bymekaar te tel, en nadat sekere aftrekkings gedoen is en ‘n korting bereken is, word boedelbelasting bereken op die balans van so ‘n persoon se boedel.
Hierdie artikel is oor die uitsluitings van lewenspolisse op die lewe van die oorledene as geagte eiendom. Daar is drie polisse wat uitgesluit is van geagte eiendom en wat nie ingesluit sal word by ‘n persoon se boedel vir die berekening van boedelbelasting nie. Of anders gestel, polisse wat aan die vereistes van die ondergemelde drie tipe polisse voldoen, is vrygestel van boedelbelasting.
Die drie polisse wat uitgesluit word is: sleutelpersoon polissie; koop-en-verkoop polisse en ‘n polis in terme van ‘n pre-huwelikse of post-huwelikse ooreenkoms. Ons bespreek nou elkeen apart.
‘n Sleutelman polis is ‘n polis wat uitgeneem is deur byvoorbeeld ‘n maatskappy op die lewe van ‘n direkteur (‘n sleutelpersoon) van die maatskappy, vir ingeval die direkteur sterf en die maatskappy ‘n finansiele verlies ly. So ‘n polis moet uitgeneem wees deur die maatskappy self (bedoelende dat die direkteur nie self die polis uitgeneem het nie). Die opbrengs van die polis moet na die maatskappy toe gaan en nie na die boedel van die direkteur nie en geen van die opbrengs moet betaal word aan enige familielid of die oorlewende eggenoot van die oorledene nie. Die oorledene moes ook nie enige van die premies betaal het nie.
Indien die polis aan hierdie vereistes voldoen, is dit uitgesluit van “geagte eiendom” van die oorledene.
‘n Koop-en-Verkoop ooreenkoms word gewoonlik aangegaan tussen lede van ‘n Beslote Korporasie; of direkteure van ‘n Maatskappy of vennote in ‘n venootskap. In terme van so ‘n ooreenkoms sal ‘n polis uitgeneem word op die lewe van die lede/direkteure/vennote sodat, by die dood van een van hierdie persone, die oorblywende persoon(one) die belang of ‘n gedeelte van die belang van die oorledene kan uitkoop uit die besigheid.
Indien die polis so ‘n polis is en aan die vereistes voldoen, sal die opbrengs nie geag word as eiendom van die oorledene nie. Die oorledene moes ook geen van die premies van die polis betaal het nie. As ‘n oorledene wel van die premies betaal het, sal die polis geag word as “geagte eiendom” van die oorledene en sal dit ingesluit word in die boedel vir boedelbelastingdoeleindes. Soms sal SARS die polis toelaat as ‘n uitsondering dat dit nie deel vorm van die boedel van die oorledene nie (waar die oorledene van die premies betaal het).
Daar is ander uitsonderings met betrekking to koop en verkoop polisse wat nie hier bespreek sal word nie.
Persone wat buite gemeenskap van goed trou gaan ‘n voorhuwelikse ooreenkoms aan. Die voorhuwelikse ooreenkoms word opgestel deur ‘n Notaris en ook formeel geregistreer. In hierdie voorhuwelikse ooreenkoms kan die partye oor enigiets kontrakteer, maar gewoonlik word daar gekontrakteer oor wat sal gebeur wanneer die huwelik tot ‘n einde kom: of deur dood of deur egskeiding.
A na-huwelikse ooreenkoms kan ook aangegaan word vir enige rede en ‘n skikkingsooreenkoms kan aangegaan word deur die partye tydens ‘n egskeiding en voordat die egskeidingsbevel toegestaan is.
In beide hierdie tipe ooreenkomste kan ooreengekom word dat ‘n polis uitgeneem sal word deur enige van die twee huweliksmaats en dat die opbrengs betaal sal word aan die oorlewende eggenoot. As so ‘n polis uitgeneem was in terme van so ‘n ooreenkoms, sal dit nie geag word as geagte eiendom van die oorledene nie.
Om te kan kwalifiseer vir die uitsondering moes die polis uitgeneem gewees het in terme van ‘n voor- of na-huwelikse ooreenkoms. Dit is nie nodig dat die polis uitgeneem moes gewees het toe die ooreenkoms onderteken is nie, dit kan enige tyd daarna uitgeneem gewees het.
Artikel 3(3)(a) bepaal dat die opbrengs van so ‘n polis moet betaalbaar wees of betaal word aan die oorlewende eggenoot of ‘n kind van die oorledene. As so ‘n eggenoot of kind voor die oorledene oorlede is, of indien so ‘n eggenote of kind die polis sedeer aan ‘n derde party, dan sal die polis nie uitgesluit word nie en sal dit ingesluit word as geagte eiendom van die oorledene.
Dus, wanneer die geagte eiendom van die oorledene bereken word, dan sal die drie polisse wat in hierdie artikel bespreek word uitgesluit wees van die boedel van die oorledene. Dit word doodeenvoudig geignoreer wanneer die boedelrekening opgestel word. Indien die polisse nie aan die vereistes voldoen nie, sal dit wel ingereken word in die boedel van die oorledene.
Hierdie artikel is geskryf deur Nanika Prinsloo van Prinsloo en Genote Prokureurs.